
My Salon
Jy het nou redelik kennis gemaak met my en die dienste wat ek lewer, maar as dit al was wat ek daaroor sou sê, kan jy dalk wonder hoe jy nou eintlik sal baatvind.

Die grootste gedeelte van my taak (hierdie is nie ‘n werk nie), word omvat in die beeld- en vernuwingskonsultasies. Dan is daar ook ‘n paar klein dingetjies wat ons vrouens laat goed voel. Ja, dit lyk beter as jou wenkbroue reg geboog is en jou droeë hakskene glad geskuur is, maar wat elke vrou die meeste waardeer van hierdie behandelings, is daardie “tydjie vir myself”.
Ek hou ook daarvan om te verwys na Aanrakingsterapie. Die behaaglike gevoel om koesterend aangeraak te word, die moegheid wat weggeknie word, die seer wat verdun word in hemelse musiek...
Miskien het Karel Ark iemand spesiaal in gedagte gehad toe hy sy gedig “Hande” geskryf het, maar ek het hierdie woorde soos ‘n eggo van my eie hart gehoor:
Die dag toe my hande gemaak is
het die Skepper geweet
hoe om die vingers te vorm
hoe lank Hy die litte moet meet.
Want die dag toe ek gemaak is
het Hy van jou geweet
dat my vingers die kontoere
van jou lyf sal ontleed.
Jare gelede het ek geleer om klavier te speel, en al die tekens was daar dat ek ‘n goeie pianis kan word: ek was (is) mal oor musiek, wou vroeg al my eie stukkies komponeer en kon met gemak ‘n oktaaf plus twee note tussen my duim en pinkie span. Die sekere soort ongeduld wat ek het om die note te vind wat ek in my siel kon hoor galm, het my ontmoedig en ek het toe maar liewer net aangehou sing.
Toe ek Aromaterapie ontdek, het ek dadelik geweet dat ek nie net met ‘n talent toegerus is nie, maar dat ek met ‘n gawe geseën is om my hande doeltreffend te kan gebruik. Ek het geleer om geurige olies te meng en dan in ‘n sekere roetine aan te wend, sodat dit balanserend, vertroostend, opwekkend en selfs genesend kan werk. My lang vingers het al die jare geoefen om sterk te wees vir hierdie spesiale aanraking.
Ek het besluit dat ‘n manikuur en ‘n pedikuur ook ‘n bederf moet wees – meestal omdat dit my en die kliënt in ‘n intieme sirkel plaas waarin die gesels so maklik kom. Ek gebruik geen kunsnaelprodukte tydens hierdie behandelings nie, fokus op versorging en rond dit af met ‘n luukse masseerroom wat diepbevogtigend is en natuurlik deeglik “ingevryf” moet word.
Die maklikste manier om jou voorkoms ‘n hupstoot te gee is met die grimeerkwassies. En hier moet ek jou dadelik gerusstel, niemand is veronderstel om tussen ‘n halfuur en ‘n driekwartuur, ELKE DAG, te spandeer om die “oorlogsverf” aan te sit nie. Ons noem dit nie verniet ook soms “Geleentheidsgrimering” nie!
![]() |
![]() |
Die tegniek wat gebruik word is om seker te maak dat die grimering jou gelaatstrekke en beste eienskappe sal vlei en die komplimente wat jy sal kry is gewoonlik: “Kyk hoe mooi is JY” en nie “Kyk hoe mooi is jou grimering” nie. Produkte word gebruik om jou voorkoms tot 16 ure vars en natuurlik te laat vertoon.