
Meer oor myself
![]() |
Christa van Wyngaardt
|
![]() |
Mev Styl, Suid-Afrika 2006 finalis
|
Ek is gebore in die Wes-Transvaal, met sy “vlaktes so wyd as die Heer se genade”. In 1989 matrikuleer ek aan die Hoërskool Stilfontein en die volgende jaar skryf ek in vir die Nasionale Diploma in Voedsel- en Kledingtegnologie aan die Vaaldriehoekse Technikon.
In 1992 voltooi ek my studies met onderskeidings in Toegepaste Wetenskap en Onthaalkuns. Vir die volgende sewe jaar is ek werksaam in die Voedseldiens.
In 1999 word die Klerksdorp Cantamus Koor (waarvan ek lid was) genooi om aan ‘n Habanera-kompetisie deel te neem. Ek het besluit om Avroy Shlain produkte te verkoop om my vliegkaartjie te betaal en natuurlik ‘n sakgeldjie saam te kan neem. Nooit sou ek raai dat hierdie kennismaking met die skoonheidswêreld die deur vir my sal oopmaak om my verder te bekwaam en toe te spits op dit wat my die naaste aan die hart lê nie. Ek het baie vinnig meer gedoen as om lipstiffie en dagroom te verkoop en toe die geleentheid dit voordoen in 2000 om grimeeropleiding onder die bekwame hand van Hannon Bothma (“Glam Guru”) te kan doen, het ek dit aangegryp.
Met nege ander konsultante wat by my verkoopspan aangesluit het, het ek gegroei tot ‘n eie klein besigheid. Ek het as Persoonlike Assistent vir die Avroy Shlain Area Bestuurder begin werk en het onder andere ook die opleiding behartig van die nuwe skoonheidskonsultante. Hiervoor is ek met die beste kennis toe gerus in velsorg, besigheidsvaardighede, persoonlike ontwikkeling en motivering. Om dit te kroon was die “leermeesters” mense soos Victor Vermeulen, Angelique du Toit (Woman Arise), Chantè Hinds en vele meer...
In 2005 deurloop ek die Image Consultation Programme by die Retha Mcpherson Image Academy. Die benadering wat Mev. Suid-Afrika 2004 in haar afrigting het, het my eie gevolgtrekkings oor ‘n beeldkonsultasie nog verder versterk: elke mens is baie meer as die somtotaal van sy of haar ervarings. Jy kan nooit die geheel opdeel in die verskillende fasette en dink dat jy nou ‘n persoon ken of verstaan nie. Ek het veral begin om ondersoek te doen na die dinge wat mense motiveer en watter dryfvere vir elke mens waarlik bevrediging kan bied.
In 2006 word ek genomineer as inskrywing vir Mev Styl Suid-Afrika en eindig as een van die twaalf landswye finaliste. Hierdie was vir my ‘n groot eer en skryf ‘n belangrike deel op my getuigskrif.
“Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” Psalm 16:5-6
Mag die Here, die Almagtige God, met my wees om my kennis, deernis, insig en vaardighede so te slyp, dat ek die nederige instrument sal wees wat Sy Liefde deur my gelei, sodat elkeen met wie ek werk opnuut in verwondering voor Hom sal staan oor sy of haar uniekheid en gawes.